Die Skrywer

Hallo daar, my naam is J.T. Strauss en ek is ‘n skrywer van spannings- en misdaadverhale.

Ek is in die vroeë 1980’s gebore en het grootgeword op ‘n plaas in die Potchefstroom-omgewing.

As kind het ek gereeld met my ma geprotesteer dat ek nie vroeg wou gaan slaap in die aande nie. Uit desperaatheid het sy my dan ‘n boek in die hand gestop, sekerlik met die hoop dat die lees van ‘n boek my sou lomerig maak en my dan so aan die slaap kry. Dit het nie gewerk nie. Ek was versot op die Uile-reeks van Cor Dirks en later die Fritz Deelman-reeks van Leon Rousseau en vele ander. Gou het ek ook Engelse boeke begin lees en my gunsteling was speurverhale – die werke van Agatha Christie en Arthur Conan Doyle.

Van ‘n baie jong ouderdom af het ek al geweet ek gaan eendag ‘n skrywer word. My eerste poging was in graad 3 toe ek my eerste (baie kort) storie geskryf na ek deur talle James Bond-rolprente geïnspireer is. Later het my graad 7-onderwyseres ook heel duidelik gedink daar skuil iewers ‘n skrywer in my na sy my 100% vir ‘n eksamenopstel gegee het.

Na skool het ek inligtingstegnologie aan die Universiteit van Johannesburg studeer. Na 5 jaar in dié bedryf het ek die stad vaarwel geroep en teruggekeer na die plaas. Sedertdien is ek betrokke in die gasvryheidsbedryf.

In my vrye tyd hou ek daarvan om te reis – plaaslik en oorsee. Ek is lief vir die natuur en vir diere. Vir ontspanning, stap ek of ry ek ek graag perd. ‘n Stokperdjie waarmee ek my gereeld besig hou is fotografie en grafiese kunswerk. My liefde vir rolprente het nooit getaan sedert my kleintyd nie en ek hou van films van verskeie genres – veral speurrillers en wetenskapfiksie.

Ek het nog altyd stories geskryf waarvan ek sal hou om self te lees en hopelik is daar heelwat lesers daar buite wat my smaak sal deel. As jy van my skryfwerk hou is jy vry om my te kontak deur ‘n e-pos te stuur of in te teken op my kwartaallikse nuusbrief. Hoekom kwartaalliks? Want ek hou net so min van gemorspos as jy!

Hou asseblief hierdie webblad en my sosiale media dop vir enige toekomstige fiksieprojekte.

Vriendelike groete,

J.T. Strauss

crop07sw2