Die Geheim van Donkerbaai

Soos`n verskietende ster was dit vir `n oomblik daar, helder en misterieus. `n Ligskynsel van heldergroen en pers teen die laatmiddaghorison wat dwarrel en draai en dans. Hy het nog nooit so iets gesien nie. Iets uit `n ander wêreld. Dan verdwyn die beeld agter `n groepie reuse eikebome soos die trein verby stoom. `n Heuwel skuif stadig verby en dan in die oopte wat daarop volg soek hy, maar die droombeeld het verdwyn asof dit nooit bestaan het nie.

“Adam, hoor jy my?”

Hy draai sy kop weg van die venster. “Ekskuus?”

“Waar is jou kop?” vra Bennie ergerlik en wys dan met sy duim by die kajuit se deur uit. “Ek sê ek dink ons moet daardie oulike kelnerin innooi vir `n drankie as sy weer hier verbyloop. Die direkteur kan nie kla nie. Ons is nog nie op die job nie.”

Adam grinnik. “Dit sal `n baie vinnige drankie moet wees. Ek sien al die see. Ons kan nie meer ver wees nie.”

“Dis nie `n probleem nie,” sê Bennie. “Ek haal net toevallig my polisiewapen uit sodat sy dit kan sien en haar knieë word lam en sy is soos putty in my hande. Maklik.”

Adam glimlag en draai weer terug na die venster. Vaalgroen weskusbossies strek oor die sandlandskap. In die verte hang die son rooi oor die grys oseaan. Maar die ligskynsel van vroeër is weg. Het hy hom dit net verbeel? Dit was so werklik en tog so, as hy nou weer dit in sy kop probeer visualiseer, so algeheel onwerklik. Hy haal sy bril af, vryf oor sy oë. `n Dag en `n half op `n trein eis naderhand sy tol.

Hy staan op en haal sy jas, hoed en leertas bo uit die stoorkompartement en sit dit op die bank langs hom neer. Hy knip die tas oop en haal die opdragdokument uit vanaf die direkteur. Hy lees weer vlugtig daardeur. Die opdrag is eenvoudig: Gaan na Donkerbaai en stel `n verslag op oor die selfmoord van ene professor Leopold Bostrom twee weke vantevore.

Eenvoudig. Tog het dit die kans om maklik in `n warm politieke speelbal te ontaard waarin Adam eerder nie ingesleep wil word nie. Professor Bostrom was `n kenner op die gebied van kernfisika en tot en met sy aftrede twee jaar gelede, was hy baie nou betrokke in die regering se kernwapenprogram. Vandat die nuus van die professor se selfmoord gebreek het is die koerante elke dag vol skindernuus oor die bekende fisikus se dood en talle samesweringsteorieë doen tans die rondte. Die feit dat Bostrom en die president ouduniversiteitsvriende was, help beslis nie om die stemme te demp nie.

Hy sit die dokument weg en haal die brief uit wat hy drie dae gelede in die pos ontvang het. Hy haal die enkele blaai uit die koevert en vou dit oop. Vir die soveelste keer lees hy daardeur en met elke deurlees daarvan groei die onrustigheid binne Adam en weet hy hierdie opdrag gaan allesbehalwe eenvoudig wees.

18 September, 1953

Beste Adam,

Ek hoop alles is nog wel met jou daar in die groot stad. Dit is nou net meer as `n jaar dat ek die stad vir die platteland verruil het, maar tog vind ek myself dat ek nog dink aan ons opleidingsdae daar by die polisiekollege en al die geruis en druis van die besige stadslewe om ons. Ek en jy het moeilike en goeie tye saam daar beleef wat my altyd sal bybly.

Adam, ek wens ek kon sê ek is bly om te hoor jy kom hier na Donkerbaai. Natuurlik sal dit wonderlik wees om`n ou vriend weer te sien, maar die feit is jy kom hierheen terwyl my persoonlike omstandighede in `n warboel en uiters onseker is.

Jy weet ons almal in hierdie land word groot met dieselfde beginsels en uitkyk op die lewe. Of jy nou saam met jou vriende en onderwysers in die skool is, of Sondae in die kerk na die dominee luister, of Saterdae saam met jou familie en vriende braai, is daar altyd die wete dat hierdie jou mense is wat in dieselfde dinge as jy glo.

Maar hier op Donkerbaai voel ek asof ek niemand om my kan vertrou nie. Hierdie dorp het `n vreemde lewe van sy eie. Op die oog af lyk dinge heel normaal en selfs idillis. En die mense lyk en tree op soos ons mense. Maar onder die oppervlak skuil daar `n donkerte. Jy sal my nie glo as ek jou moet vertel wat ek al met my eie oë hier aanskou het nie. Soms weet ek nie of ek dit self glo nie. Soms voel dit asof ek in iemand anders se droom is en nie kan wakker word nie.

Ek sukkel om te slaap in die aande. En nou boonop met professor Bostrom se dood voel dit asof alles net by die dag vererger. Ek weet nie hoeveel ek nog hiervan kan hanteer nie.

Ek weet nie eintlik hoekom ek hierdie brief skryf nie. Ek kan jou nie keer om te kom nie, dit weet ek. Dalk skryf ek net om jou te waarsku: Moet niemand vertrou nie. Niks en niemand is wat hulle blyk om te wees nie.

Jou vriend,

Stoffel Gericke

 

Lees die res van Die Geheim van Donkerbaai en 7 ander kortverhale in “Soeker en ander verhale” wat in die Amazon Kindle-winkel in e-boek formaat beskikbaar is.