Alias

Dis soos om in iemand anders se lyf wakker te word. Iemand wie jy nie ken nie. ʼn Vreemdeling. Die lae drome lê dik in my kop en vir ʼn oomblik flits die gedagte deur my brein dat hierdie net nog ʼn droom is. Net nog drogbeelde wat vanaf my onderbewussyn opkom vanuit die donkerte, om vlietend te verskyn en dan weer in die niet te verdwyn.

Maar saam met die vae beelde van lig en donker en grys is daar geluide, hol en vêr. Die geluide eggo al hoe nader en neem die vorm van ʼn vrouestem aan.

“Meneer?” hoor ek die stem voor ek haar sien. “Meneer?” Die droom val weg en die lig en donkerte skei voor my oë. Haar gesigsvorm word reg voor my geskape. Die donkerbruin hare om haar sagte groen oë word ingekleur asook haar mond wat soos pêrelskulpe oop en toe beweeg waarvandaan die stem eggo.

“Meneer, hoe voel jy? Kan jy my hoor?”

Ek probeer praat, voel hoe my kakebeen en mond oneweredig beweeg. ʼn Geluid kom uit. ʼn Sagte kreuning. Maar dit voel nie soos my mond of stem nie. Ek probeer om nuwe lewe in ʼn vreemde lyf te blaas.

“Waar is ek?” hyg die stem na buite.

“Mooivlei kliniek. Meneer was in ʼn ongeluk. Hoe voel jy? Het jy enige pyn?”

Ek frons. Stadig word die kamer om my ingeskilder. Die groot staalbed onder my. Die reuk van skoonmaakmiddels in die lug. Monitors wat langs my kop biep.

“Ervaar jy enige pyn?” Ek draai na haar, probeer my lyf op die bed regskuif. Eers voel ek niks. Net ʼn swaarheid wat hierdie vreemde lyfdop op die bed vasdruk. Dan skiet ʼn skerp pyn deur die lyf. Ek kreun weer en vat aan my sy. Swaar verbande is om my middellyf gedraai.

“Stadig,” sê sy. “Die wond is nogal diep. Dit gaan vir ʼn ruk nog gevoelig wees.”

“Ek . . . Wat het gebeur? Hoe het ek hier gekom?”

“Jy was in ʼn motorongeluk. Net hier buite die dorp. Die ambulans het jou hierheen gebring.”

“Hoe . . . Ek . . .” Ek probeer terugdink, maar my kop voel leeg en donker. “Hoe lank is ek al . . .” Die regte woorde wil nie uitkom nie. Verdwaas kyk ek af na my lyf op die bed.

“Die ongeluk was gistermiddag. Jy was tot nou toe bewusteloos.” Haar oë is sag, simpatiek en daar is fyn lagplooitjies om elkeen wat sy mildelik onder grimering probeer verdoesel. Sy maak ʼn lêer voor haar oop, klik-klik die pen in haar regterhand.

“Jy het nie enige identifikasie by jou gehad toe jy ingebring is nie. Wat is jou volle name?”

“My naam is . . .” Die sinapse in my brein flikker, bots teen ʼn onsigbare skeiding en verdof. Ek frons en kyk af na my hande. “Ek is . . .” Ek besef ek ken nie hierdie hande nie. Ek probeer rondgrawe in my brein. Maar daar is net donkerte. Daar is niks. Ek kyk weer op na haar.

“Ek kan nie . . . Ek kan nie onthou nie.”

Lees die res van Alias en 7 ander kortverhale in “Soeker en ander verhale” wat in die Amazon Kindle-winkel beskikbaar is in e-boek formaat.