Alfa Dag

Die dubbelkajuit bakkie staan net buite sig van verbygaande verkeer in die skadu van ʼn groot olienhoutboom. Bruno Agia kyk stip voor hom uit na die pad met die selfoon gereed in sy regterhand. Elke paar sekondes kyk hy af na die skerm om seker te maak of die foon nie dalk intussen sein verloor het nie.

Terence Plaatjies trommel sy handskoenbedekte vingers op die stuurwiel langs hom, haal dan die soveelste kougomlekker uit sy baadjiesak, stroop die papier af en sit die lekker in sy mond. Behalwe vir die geluid van sy kakebene wat op en af beweeg is dit verder doodstil in die bakkie.

“Hulle is laat,” sê Bruno en loer na die wysers op sy polshorlosie.

“Hulle moet nou baie naby wees, boss.”

Bruno antwoord nie. Hy voel weer die onrustigheid hier in hom groei. Vandag mag niks verkeerd gaan nie. Dit is hoekom elke aspek van vandag haarfyn voor die tyd uitgewerk is. Wie moet waar wees wanneer, en teen watter tyd moet wat gebeur. Elkeen ken sy rol in en uit. Daar is geen ruimte gelaat vir foute nie.

Die selfoon lui in sy hand.

“Jake, waar trek julle?” antwoord hy.

“Ons ry nou verby die dam. Nog so drie minute weg.”

“Reg,” sê Bruno, druk die foon dood en knik vir Terence. Terence skakel die enjin aan. Hulle maak hul sitplekgordels vas en gaan weer hul AK-47’s na en maak seker die veiligheidsknippe is af. Laastens trek hulle die klapmusse oor hul koppe sodat net hul oë sigbaar is. Hulle sit stil in die bakkie en luister. Dan hoor hulle die geluid van ʼn aankomende voertuig.

“Dis hulle. Maak gereed.”

“I was born ready,” sê Terence en gly die rathefboom oor in eerste rat.

Die transito geldwa beweeg om die draai voor hulle verby. Hulle ry vorentoe. ʼn Tweede voertuig verskyn om die draai kort op die hakke van die transitovoertuig. Met spinnende wiele klim hulle vanaf die grond oor na die teer en sit die twee voertuie agterna. Behendig verwissel Terence die ratte en stoot die bakkie se spoed op.

Die voertuig voor hulle is ʼn swart BMW sedan. Die pad maak reguit en hulle verwissel van bane en ry tot langs die BMW. Daar is twee insittendes voor in die voertuig, elkeen ook met klapmusse oor hul koppe getrek. Die bestuurder loer in Bruno se rigting. Hulle knik vir mekaar. Die bakkie jaag verby en neem die voorste posisie in.

Vyf honderd meter vorentoe kan hulle die transitowa sien ry. Bruno kyk oor en sien hoe die naald oor die honderd-en-sestig-kilometer-per-uur-merk beweeg. Hulle nader ʼn lang opdraande waar die pad in ʼn lang wye draai van links na regs oor die aankomende heuwel kronkel. Die transitowa begin spoed verloor soos hy die heuwel begin klim en forseer word om na ʼn laer rat oor te skakel.

Die bakkie vernou die afstand tussen hulle. Drie honderd meter.

Bruno haal ʼn nekstut uit die paneelkissie, draai na Terence en sit dit stewig om sy nek vas. Hy doen dieselfde vir homself.

Twee honderd meter.

Bruno trek die aanvalsgeweer nader en sit dit plat op die vloer by sy voete neer.

Een honderd meter.

Hy vou sy arms skuins oor sy bors sodat hy met albei sy hande aan sy skouers vashou. Vir ʼn kort oomblik maak hy sy oë toe en haal twee keer diep asem. Hy maak sy oë weer oop.

Vyftig meter.

“Here we go, baby!” skree Terence langs hom.

Lees die res van Alfa Dag en 7 ander kortverhale in “Soeker en ander verhale” wat in die Amazon Kindle-winkel beskikbaar is in e-boek formaat.